Ek was vandag vir die eerste keer weer in Pick ‘n’ Pay. Die eerste keer sedert ons finaal uitmekaar is. Die rit daarheen was ok. Die instap by die winkel was ok. Ek hou nie van shopping nie, maar besef ek moet buite tussen mense wees. My kind moet eet. Dit voel of almal vir my kyk. Lyk ek dan so sleg?
Pampoentjies, vyf, in ‘n groen sakkie. Pleisters vol troos vir enige skrapie. Kaas omhul in twee koekies. Rooi pastasous. Durban curry. Hearty beef stew. Vissie duikbote. Hasiemelk. Breakfast punch. Ek wag dat jy om die draai verskyn met ‘n boks melk in jou arms.
Die Robertson-skip vol geure vanoor die wêreld hou my regop. “Are you ok my sweetheart?” vra ‘n stem iewers. Ek kyk nie op nie. Ek kry nie asem nie. Alles is aan die brand en seer. Kompleet of ‘n reuse agterstewe bo-op my sit. Naar stoot en dreig. My maag en derms kramp en pyn.
God, ek is moeg vir hierdie verhaal van Job.
Ek voel ‘n hand op my arm. Ek kyk nie op nie. Onder op die vloer voor my skoene word dit drup-drup nat. Magteloos sluk ek. Knyp my oë styf toe. Die hand druk-druk aan my arm. Ek kyk nie op nie. Haal my bril af en vee woes om van die sout ontslae te raak wat langs die spesery rak versamel. “Are you sick my darling? You are deathly pale.” Ek antwoord nie. ‘n Tissue word uitgehou. Ek neem dit. “Thanks” is al wat ek kan fluister. Vee my gesig skoon. Sluk aan die naar. “There, there,” troos die stem. “What is wrong?” Ek sluk hard, so hard dit voel soos doringdraad. “I feel guilt and shame,” antwoord ek.
Ek probeer verduidelik sonder om op te kyk. Spaarsamig met my woorde. My hart is stukkend. Ek is stukkend. Al manier van regop bly is om kwaad te wees. Dit wissel tussen stoom en trane. Bitterbek of Kruipende Kraan. Ek wil nie bitter wees nie. Ek wil nie tjank nie. Ek wil nie. Ek wil nie. Ek wil dat jy om die draai verskyn. Net weer myne. Net weer joune. Net nie weer nie.
“Anger is normal my dear,” paai die stem.
Ek maak jou seer met my seer. Doen aan ander… sê my blou en silwer boek. Vergewe sodat jy vergewe kan word.
Ek slaan vir elke hou ontvang. Daaroor is ek skaam. Ek het nog nooit rede gehad om skaam te wees in my lewe nie. Nou het ek.
“Guilt is good. It’s the price we pay for an honest soul. Tears are better. It heals the heart. Forgiveness is best. It sets you free. Good luck my dear.” Ek probeer my bes om te glimlag, maar knik net my kop. Die stem verdwyn met haar trollie.
letters op ‘n skerm
woorde van ‘n song
begeerte in ‘n lighter
op vlerke na die son
ek bitterbek
maak my gek
vlamme
wat aan wonde lek
asseblief my lief
skiet nog spek
twee stuk dinamiet
maak ‘n moerse bom
blaas aan skerwe
die sterkste
sterkste gom
rook en as
oorblyfsels
van wat ons was
bring die water
bring die reën
voordat my hart
nogmaals
soos die tyd voor jou
versteen
Wat begin het as ‘n projek om weer my voete te vind, het ontaard in ‘n projek om jou kop onder die water te hou, terwyl ek saam versuip. Wat bedoel is om vrede te vind het bloot die vuur van bitter aangeblaas. Veroorsaak dat ek jou vriendskap, die laaste goue garingdraad, versnipper.
Ja, jy het my diep teleurgestel en dieper seergemaak. En duidelik ek vir jou. Ek kan op jou goeie kwaliteite fokus en daarvan vertel, jy het so baie. Meer om te ontdek. Ek het gekies om jou ‘n monster te maak. Patetiese poging om die honger na jou te stil.
Jy bly die beste ding wat nog oor my pad gekom het.
Mag jy jou stille vrede weer vind.
Ek is onvoorwaardelik en opreg jammer.
Ek vergewe jou alles.
Ek verdien nie die naam Emma Dixon nie. Emma wat “whole” beteken en Dixon wat “brave” beteken. Ek streef steeds daarna, om dit terug te kry, onder my eie naam, weg uit die oog. Ek is klaar met hierdie projek wat so skeef geloop het nes ek.
So baie het so verkeerd geloop, alles gelyk en op ‘n hoop. Ek kry myself nie jammer nie. Ek vra nie meer hoekom nie. God weet wat Hy met my doen.
Dankie aan almal vir jul raas, advies, ondersteuning en troos.
Al is dit net letters op ‘n skerm, weet dit beteken soveel meer. Tyd en ondervinding behoort dit vir almal mettertyd te leer.
Aan my lief – Venus is die enigste planeet in ons sonnestelsel wat kloksgewys roteer
Aan my pêl – Erdwurms het vyf harte
Aan myself – Staan op red eye, staan net verdomp uit die ashoop op
“There is a sacredness in tears. They are not the mark of weakness, but of power. They speak more eloquently than ten thousand tongues. They are messengers of overwhelming grief…and unspeakable love.” Washingtong Irving
“Sincere forgiveness isn’t coloured with expectations that the other person apologise or change. Don’t worry whether or not they finally understand you. Love them and release them. Life feeds back truth to people in its own way and time.” Sara Paddison
“Forgiveness is the fragrance that the violet sheds on the heel that has crushed it.” Mark Twain (Tom Sawyer)
“Forgiveness is the final form of love.” Reinhold Niebuhr
Tags: Emma Dixon Projek
November 18, 2008 at 9:17 nm
jy praat so baie uit my mond, hart, siel en gedagtes. . . Hoop jy voel beter!
November 19, 2008 at 10:10 vm
Ons sal jou mis. Dit was altyd insiggewend om jou opsomming van gebeure te lees.
Maar wanneer mens voel dit doen jou nie goed nie, moet jy aanbeweeg.
Mag jy vrede kry. Liefde raaksien. Geluk ervaar. Ophou toelaat dat die verkeerde mense met jou gebeur. En leer dat tweekeer se seerkry nie driekeer se verdriet is nie.
Gaan jou wel Emma Dixon. En onthou van die ou skoene wat jy uitgeskop het!
((((ED))))
November 19, 2008 at 10:19 vm
Windliedjie
ek het jou opgeskeur
maar
die flenters waai terug in my gesig
ek het jou verbrand
maar
die as waai terug in my gesig
ek het jou vergeet
die onthou waai terug in my gesig
-Stephan Bouwer
November 19, 2008 at 4:20 nm
Dagse Emma
Ek verstaan jou wegdraai van die seer, dit wat jy wil agter die rug kry. Dit vat tyd en vasbyt. Die tye soos vandag gaan dit jou oorweldig maar as jy wegbreek gaan jy nog langer vat om anderkant nuut uit tekom. Tyd laat dinge vervaag dit heel en herstel niks.
Net vasbyt en deur dit werk al voel dit soms of die monster van seerwees jou gaan verwoes en insluk, hy kan nie al wil hy, jy is deur jou Maker sterker as enige seer. Onthou jy is nooit allen daarbinne in die maalkol van jou seer nie, maar jy kom anderkant uit as oorwinnaar.
Groete en sterkte
PS Jy sal sien deur die Braaf in Sy hande te sit sal Hy jou weer help om Heel te wees. Wees Braaf en word Heel.
November 19, 2008 at 5:57 nm
Liewe Emma Dixon
Jy gaan gemis word.
Mag jy volkome heel word.
Jy toor met woorde, ek hoop om jou weer raak te lees.
Allerbeste wense.
November 19, 2008 at 6:11 nm
Emma
Die seer is so ontsettend duidelik in jou woorde. So duidelik dat self iemand soos ek dit in my hart kan voel. Ek wens ek kon woorde op jou skerm skryf wat jou seer kan wegvat, maar ek weet nie hoe nie. Maar soos jy se^ God weet wat hy met jou doen.
Jy skryf verskriklik goed en al voel jy miskien dat jou woorde nie vir jou help nie dink ek tog dit spreek tot ander mense wat dit lees. So moenie ophou om dit te skryf nie. Dis dalk wat God wil he jy moet doen.
November 20, 2008 at 6:36 vm
Die liefde maak seer!
Jy gaan gemis word!
My wens vir jou is om weer gelukkig te wees!
Sterkte Emma Dixon!!!!
November 20, 2008 at 10:31 vm
My wens vir jou is ook dat die son uiteindelik weer sal deurbreek. Sterkte!
November 20, 2008 at 11:29 vm
So jammer oor jou seer.
November 20, 2008 at 7:07 nm
Jou kind, Emma – jy het die stukkie mens wat JOU nodig het.
Liefde
Sammi
November 20, 2008 at 10:30 nm
Tersia, sterkte met jou eina. Los die rowe uit hoor.
Skoorsus, jy is reg, ‘n mens het net een hart.
White Knight, jy is ‘n streng outboet.
Maxie, ek sal jou stert mis wat om my enkels vleg.
flippiefanus, dit voel of ek jou lank reeds ken.
Wipneus, vra tog vir Saturnus om my in vrede te laat.
Dellie, jou en die ander se stille teenwoordigheid was soos engele wat om my waak.
Nelba, dankie en mag die tas in jou eie hand nie te veel letsels laat.
Sammi, dit is die hele punt.
‘n Jaar of wat terug het ek by ‘n plek vol donker wolke, weerlig en donderweer gewerk. Daar het ‘n jong meisie begin werk. Sy het na ‘n maand of twee besef dat die weerlig haar en haar huisgesin te hard slaan. Die res van ons het dit ook gevoel. Party meer as ander. Terwyl ander salig onbewus was dat die storm ‘n tornado in hul eie huis sou bring.
Ek het haar gevra, “het jy ‘n ander werk?”, terwyl sy haar lessenaar vir oulaas opgepak het. “Nee.” “Julle het pas ‘n huis gekoop…” het ek gesê. “My man het erken hy is ongelukkig vandat ek hier werk. Ek ook. Hierdie job vernietig ons. Werk is volop – ek het net een man.”
“Wat gaan jy nou doen?” Baie ernstig het sy gesê, “Nou? Ek gaan blommetjies in my nuwe tuin plant, die laaste bokse uitpak en vir my man ‘n lekker bord kos kook”.
Wyse egpaar.
Wees altyd eerlik met jou maat. As iets of iemand jul sekuriteit bedreig, erken dit. Sny dit uit jul lewe uit. Plant blommetjies.
Mag jou ego nooit groter as liefde word nie.
Emma